As jy al ooit daarvan gedroom het om oor die barre rooi sandduine van die Namib-woestyn in ‘n warmlugballon te dryf, moet jy by Sossusvlei Lodge by die Sesriem-hek van die Namib Naukluft Park in Namibië gaan kuier.
Die unieke argitektuur van hierdie luukse lodge weerspieël die kleure en atmosfeer van hierdie Afrika-woestyn. Boumateriaal soos modderstene kombineer pragtig met seildoek, en maak Sossusvlei Lodge een van Namibië se elegantste luukse oorde. Geen wonder dat Sossusvlei Lodge in 2006 aangewys is as Namibië se beste lodge nie en ook ‘n silwer toekenning vir uitnemendheid ontvang het.
Alhoewel Sossusvlei Lodge by Sesriem ‘n luukse lodge is, is dit ook ‘n eko-vriendelike bestemming. Alle ligte word deur sonkrag aangedryf, en die eko-vriendelike geboue word deur die kameeldoringbome koel gehou.
Jy kan Sossusvlei Lodge in Namibië bereik via ‘n grondpad vanaf Windhoek, Mariental en Swakopmund, maar as jy haastig is om by hierdie luukse lodge gepamperlang te word, sal dit beter wees om ‘n huurvlug vanaf Windhoek te reël. D826, Sesriem, Namibië.
By Sossusvlei Lodge word gaste in 45 luukse tentkamers gehuisves, almal en suite met lugversorging, in ‘n gesofistikeerde Afrika-styl. Elke kamer het sy eie balkon, en elke kamer het dus ‘n onvergeetlike uitsig op die Namib-woestyn.
Om in die woestyn te swem is nie iets wat ‘n mens elke dag doen nie – geniet dit dus om in die vonkelende swembad by Sossusvlei Lodge af te koel.
Vermaak word deur die woestyndiere, soos springbokke en hiënas verskaf wanneer hulle die watergat (met spreiligte) besoek.
Omdat Sossusvlei Lodge so naby aan Sesriem is, bied hulle ‘n aantal begeleide uitstappies na Sossusvlei en die Namib-Naukluft Park in Namibië. Hierdie area is bekend vir reuse sandduine, wat gedurig van vorm en kleur verander.
Eko-vriendelike “quad bike”-uitstappies, vlugte oor die woestynlandskap, sandplankry, skemerkelkie-uitstappies in die woestyn en warmlugballonvlugte sal jou besoek aan Sossusvlei Lodge onvergeetlik maak. Jy kan selfs ‘n ontbyt “quad bike” uitstappie meemaak, waar jy kan sien hoe die son oor die Namib-woestyn opkom, terwyl jy ontbyt geniet wat op ‘n tafel van versteende modder bedien word!